Media: Gympiestraters hoor Vrydag oor uitsettingsaak

1 08 2008

01/08/2008 11:42:12 PM – (SA)
Source: Die Burger

Kaapstad. – ’n Groep onwettige besetters in Gympiestraat in Woodstock gaan na verwagting Vrydag hoor wanneer hul verhoor uiteindelik begin.

’n Jong inwoner van Gympiestraat in Woodstock, Robino Oormeyer (2), by ’n betoging voor die Kaapstadse landdroshof. Hulle is ongelukkig omdat die krag- en watertoevoer na die eenhede wat hulle onwettig beset, afgesny is.     Foto: NEIL BAYNES

’n Jong inwoner van Gympiestraat in Woodstock, Robino Oormeyer (2), by ’n betoging voor die Kaapstadse landdroshof. Hulle is ongelukkig omdat die krag- en watertoevoer na die eenhede wat hulle onwettig beset, afgesny is. Foto: NEIL BAYNES

Die besetters word aangekla van minagting van die hof nadat hulle in weerwil van ’n uitsettingsbevel wéér hul intrek in van die woonsteleenhede geneem het.

Die saak is gister in die Kaapse landdroshof uitgestel weens die inwoners se regsverteenwoordiger, adv. Zahir Omar, se betrokkenheid by die saak teen mnr. Jacob Zuma, het die inwoners aangevoer. Omar het glo ’n faks aan die hof gestuur om verskoning vir sy afwesigheid aan te teken.

Die uitsettingsage duur al sedert 2003, toe mnr. Dennis Robertson, van Rondebosch, die eiendom op ’n veiling gekoop het. Robertson wou hê die huurders moes ’n huurooreenkoms teken, maar van hulle het geweier. Van die eenhede in die woonstelblok word ook glo onderverhuur, terwyl Robertson glo nie ’n sent hiervan kry nie.

Robertson het gesê die verhoordatum sal Vrydag vasgestel word, ongeag of die besetters se regsverteenwoordiger in die hof is.

Volgens mnr. Willy Heyn, een van die inwoners en ’n lid van die Anti-Eviction Campaign, is daar sowat 450 mense in die elf wooneenhede.

Die meeste van die inwoners is huishulpe en fabriekswerkers, of die gesinne se broodwinners is in die tronk.

Heyn het gesê Robertson het die mense wat die eenhede onderverhuur R4 000 en ander verblyf aangebied in ruil daarvoor om die eien­dom te ontruim.

Robertson het gister gesê hy is selfs bereid om R5 000 te betaal, maar alternatiewe verblyf is nie by sy aanbod ingesluit nie.

Hy het gesê die afgelope vyf jaar is hy verantwoordelik vir alle uitgawes – soos erfbelasting, versekering en munisipale tariewe – terwyl hy geen inkomste uit die eiendom kry nie.

Advertisements

Actions

Information




%d bloggers like this: