Media: Kinders skryf briewe vir minister

25 03 2008

UNA CUPIDO
25/03/2008 09:32:25 PM – (SA)
Source: Die Burger

KAAPSTAD. – “As ek slaap in die aand en die wind waai, dan bid ek so hard dat die hokkie nie omwaai nie.”

Nikita Mkwena (9)’n gr.-2 leerder het haar maatjies wat op die sypaadjie van Symphonyweg bly, aangemoedig om briefies aan me. Lindiwe Sisulu, die minister van behuising te stuur, waarin hulle haar vra vir huise.   Foto: TARYN CARR

Nikita Mkwena (9)’n gr.-2 leerder het haar maatjies wat op die sypaadjie van Symphonyweg bly, aangemoedig om briefies aan me. Lindiwe Sisulu, die minister van behuising te stuur, waarin hulle haar vra vir huise. Foto: TARYN CARR

So lui ’n deel van ’n hartroerende smeekbriefie aan die nasionale minister van behuising, me. Lindiwe Sisulu, waarin kinders van gesinne wat op die sypaadjie in Delft bly, haar smeek vir huise.

Tientalle kinders het briewe aan die minister geskryf en hulle gaan dit vandag aan die plaaslike minister van behuising, mnr. Richard Dyanti, oorhandig om aan haar te gee.
Nikita Mkwena (9), ’n graad 2-leerder van die Primêre Skool Accordian, in Belhar, het gesê sy het besluit dat hulle (kinders wat op die sypaadjie bly) briewe aan die minister moet skryf .

“As ek verveeld word, verlang ek soms om in ’n park te speel. Ons kan nie so bly nie,” het die mollige meisiekind ewe wys gesê.

“Ons kan siek word en die oumense kan doodgaan . . .

“Hulle kan nie doodgaan voordat hulle nie in huise bly nie,” het sy voortgegaan.

Op die vraag aan Nikita se maatjie, Mariam Sylvester (8), wat sy eendag wil word, het sy prontuit gesê: “Ek wil die minister van behuising word.”

Intussen het mnr. Xolani Xundu, woordvoerder van Sisulu, gesê die minister kan nie op die briewe reageer voordat sy dit nie ontvang het nie.

Volgens prof. Alan Flisher, hoof van die departement kinder- en tienerpsigiatrie aan die Universiteit van Kaapstad, kan kinders wat nie in ’n stabiele omgewing grootword nie nadelig geraak word.

“Angsaanvalle en depressie kan van die kort- en langtermyngevolge wees,” het Flisher gesê.

Sowat 1 600 gesinne is op 19 Februarie vanjaar uit huise in Delft Symphony gesit, nadat hulle dit onwettig beset het.

Advertisements

Actions

Information




%d bloggers like this: