Media: Paartjie van Delft Symphony woon, trou op sypaadjie

18 03 2008

UNA CUPIDO
18/03/2008 10:23:09 PM – (SA)
Source: Die Burger

Mev. Sylvia (29) en mnr. Elmarco (24) Williams het besluit om Saterdag op die sypaadjie, waar hulle in Delft Symphony woon, te trou   . Hier is hulle in die Kaapse middestad afgeneem. Foto: YUNUS MOHAMED

Mev. Sylvia (29) en mnr. Elmarco (24) Williams het besluit om Saterdag op die sypaadjie, waar hulle in Delft Symphony woon, te trou . Hier is hulle in die Kaapse middestad afgeneem. Foto: YUNUS MOHAMED

KAAPSTAD. – ’n Paartjie het besluit om die afgelope Saterdag sommer op die sypaadjie van Delft Symphony af te haak.

Mev. Sylvia (29) en mnr. Elmarco Williams (24) was onder die mense wat verlede maand uit huise, wat hulle onwettig beset het, gesit is. Hulle woon tans op die sypaadjie.

“Ek wil eendag vir my kinders wys in watter stryd ons gewikkel was,” het mev. Williams gesê.
Die egpaar het drie kinders en sê dit was nog altyd hul begeerte om te trou. Williams en haar man was onder die honderde ander sypaadjiebewoners wat gister na die departement van behuising in Waalstraat opgeruk het. Die groep wou vorms vir behuisingsubsidies invul.

Me. Joyce Volkers het gesê daar is geen bewys van haar vorm wat sy ingevul het nie. “Die behuisingskantoor kon dit nie opspoor nie,” het sy gesê. Mnr. Vusi Tshose, woordvoerder van mnr. Richard Dyantyi, Wes-Kaapse minister van behuising, het gesê die besonderhede van dié mense is geneem. “Ons gaan dit vergelyk met ons rekords en dié van Thubelisha (die N2 Gateway-behuisingsontwikkelaars),” het Tshose gesê.

Intussen weier van die inwoners, wat in die tente in Delft Symphony woon, om verskuif te word na grond in die omgewing wat deur die Kaapse stadsraad beskikbaar gestel is. Hulle gaan na verwagting oor drie weke verskuif word.
.Mnr. Ashraf Cassiem, van die Anti-Eviction Campaign, het ’n beroep op die publiek gedoen om kos aan die mense op die sypaadjie te bly verskaf. Volgens hom is daar altesaam 3 000 mense wat op die sypaadjie woon. Daar is 300 kinders onder hulle.

Advertisements

Actions

Information




%d bloggers like this: